Monday 30 August 2010

Die tyd het gekom

Die groot dag het aangebreek, die dag wat my en Jeff se lewe heeltemal gaan verander.  Die dag wat ons ‘n kind in die lewe bring.  Ek is verskriklik opgewonde.  Eintlik weet ek nie of ek opgewonde of bang is nie, maar die skoenlappers  in my maag hou net nie op nie.  Dit is maandag oggend 03:30 ek het vroeg opgestaan om my hare te blaas en bietjie make-up op te sit.  Ek wil tenminste mooi lyk as ek tog op foto’s moet kom.  Ek is sommer vroeg op en wakker en Jeff lê nog en slaap. Ons het so 04:15 gery sodat ons betyds kan wees by die hospitaal.  Ons moet 05:00 daar wees.
Ons kom by die ontvangs en hulle laat weet dat ons moet na die Kraam saal toe gaan op die vierde vloer.  Ons het daar aangekom en daar was verskriklike oulike susters by die ontvangs. Hul het my dadelik verwys na kamer nommer 6.  En dankie tog ek kry my eie kamer, ek het gedink dit gaan so groot saal wees met klomp beddens in waar al die vrouens lê en daarvoor was ek nie regtig baie lus nie.
Ons stap in die kamer in en op die tafeltjie is dit die medisyne en aperate wat hul gaan nodig hê vir my in die kamer.  Ek probeer kyk wat in die pakkie is maar natuurlik kan ek nie uitwerk wat al die mediese goed is nie.
Ons sit nou rustig en wag vir die tyd om aan te breek, Jeff is honger en het die slegste koffie gedrink.  Hy het natuurlik geen skaamte in hom nie en het die susters gevra vir koffie, maar teen sy spuit het hy die slegste koffie gekry wat hy ooit gedrink het.  Ek mag natuurlik niks drink as gevolg van die narkose nie en smag so vir ‘n ou slukkie water.  Die tyd gaan maar baie stadig verby, maar ek dink dit is seker omdat ek die hele tyd vir die horlosie kyk.
Die narkotiseerder het ingekom en alles vir my kom verduidelik.  Hy het gesê dat hy my eers dood spuit om die area waar hy die epiduraal inspuit en het my ook gevra watse tipe narkose ek soek.  Wil ek wakker wees of verkies om heeltemal uit te wees.  Ek het voor die tyd al besluit ek wil wakker wees, ek wil so graag daai eerste huil hoor.  Hy lyk darm na ‘n oulike dokter
Die suster het in gekom om vir my ‘n kateter in te sit, dit is natuurlik wat nou in die pakkie was wat op die tafel gestaan het.  Jeff is gevra om uit die kamer te gaan en ek dink hy het toe nou maar die kans gevat om gou ‘n sigarette te gaan rook.  Shareen het vir my gesê dat die kateter was ‘n droom en glad nie ongemaklik nie en dit word ingesit in die teater.  Maar dit is glad nie so nie. En ek was toe nou verbaas toe sy nou gesê het dat sy dit nou vir my moet insit.  Gedink dat my lyf gaan dood wees voor hul dit insit.  Dit is vreeslik ongemaklik en dit voel die hele tyd as ek wil piepie en dit brand.  Glad nie lekker nie!!!!
08:30 het aangebreek en die susters het my kom haal.  Ons is in die lift oppad teater toe weet nie op watse vloer dit is nie.  Hulle stoot my in die wagkamer in en die suster is besig om my bandjies op te sit want hulle het vergeet om my bandjies op my arm te sit in die kamer.  Hulle het vir Jeff gevat om sy Pakkie aan te trek. Hy lyk te oulik, hy sal nogals ‘n sexy dokter maak.  Hy het toe nou nie handskoene gekry nie want hulle het vir hom gesê dit is nie nodig nie.  Shame hy wou so graag dit gehad het om nou presies soos ‘n dokter te lyk.  Ek kan so lekker vir hom lag
My senuwees is klaar en ek begin nou bietjie stres.  Jeff vra of ek ok is en toe begin ek huil, dit is maar net omdat ek nie weet wat om te verwag nie.  Hulle stoot my in die teater in dit is nou 09:00. Die narkotiseerder het my kom vra om regop op die bed te sit en na die linker kant van die teater te kyk.   Dr. Seris kom in die teater in om te groet. 
Die narkoriseerder gooi ‘n groen lap/laken oor my en die een suster kom staan by my en druk haar hande op my skouers.  Hulle verduidelik dat ek my rug bietjie moet buig.  Die dr. druk op my rugstring en begin toe my vel dood inspuit rondom dit.  Dit vat ‘n rukkie waarmee hy besig is en ek kyk maar af grond toe want dit is beter want ek weet nie waarna om anders te kyk nie en dit is bietjie gemakliker. 
Dit het gevoel asof die dokter my in my bene in sjok. Vrek dit was bietjie seer.  Hy sê hy dink hy het ‘n worteltjie raak gesteek dit is hoekom dit nou so gevoel het.  Ek het bietjie geskrik.
My bene begin dadelik snaaks voel en baie swaar.  Ek moet my bene weer terug op die bed tel en lê.  Jeff het ook gevra of ek ok is. 
Daar is ‘n suster wat by my staan besig onder by my maag, geen idée wat sy besig is om te doen nie.  Dr. Seris kom in die teater in en kom staan by my.  Hy druk om my maag en sê hy kan nou sweer dat Nanindi nou weer terug gedraai het.  Want dit voel asof haar koppie nou weer onder is.  Ag ons was tog nou klaar daar en alles is gedoen, die tyd vir normaal kraam is verby.  Hulle gooi my hospitaal rokkie bo-oor so pypie wat by my bors is sodat ek niks kan sien wat hulle doen nie.  Dokter Seris vra of ek enige iets kan voel want hy is besig om my te knuip met ‘n tangetjie so hard soos wat hy kan en ek kan niks voel nie.  Die narkotiseerder vra of ek nog oraait is en vra of ek enige iets kan voel want hulle is al besig om te sny.  Ek begin bietjie naar voel en sê vir die narkotiseerder hy vat toe iets en spuit dit in my drup in.  Seker maar iets wat my beter gaan laat voel.
Dr. Seris gebruik seker a lazer dingetjie of iets om my spiere af te brand.  My maag spiere bo soos wat hy sny, spring.  Seker maar hoe hul dit spiere af sny.  Dit het baie snaaks gevoel.  Ek kon ook nog gevoel het hoe hulle aan my bene vat, maar ek kon nie die pyn voel nie 
Hulle het bietjie langer gevat as wat ek gedink het dit gaan, weet nie hoekom ek gedink het dit gaan baie vinniger wees nie.  Ek dink ek wou net vir Nanindi sien dit is dalk hoekom dit nou so lank gevoel het.  Ek hoor die dokter vra of hulle dink die sny is groot genoeg vir ‘n baba om uit te kom.  Ek kyk op die horlosie en dit wys 09:45. Die een suster druk bo op my maag om vir Nanindi uit te druk.  Ek hoor ‘n klein skree en toe wys Dr. Seris haar vir my.  ‘n Klein babatjie, shoe is sy regtig myne?  Die voel alles so onwerklik.  Hulle vat haar dadelik na die pediater toe sodat die dokter na haar kan kyk en seker maak alles is reg.  Jeff loop saam met die kamera om te kyk wat hulle doen.  Ek kon nie wag dat hulle haar vir my bring nie.  Ek het haar net gehoor skree.  Hulle bring haar vir my en sit haar op my bors neer.  Ag die mooi dogtertjie, ek weet nie hoe moet ek voel nie.  Alles voel so onwerklik.  Sy is so klein.  Sy maak haar ogies oop en kyk vir my, hallo Nanindi dit is mamma. 

Toe sy nou klaar by my gelê het vir ‘n rukkie toe sit hulle haar in die broeikas en vat haar nou na die kraamsaal toe.  Jeff het saam geloop want ek het hom die dood voor die oë gesweer as hy sy oë van haar af haal.  Ek is bang hulle steel haar.  Hulle is uit die teater uit en nou lê ek en wag dat hulle my toewerk.  Dit vat langer as wat die hele oprasie gevat het, maar ek neem aan dit is maar ‘n delikate proses.  Hulle is klaar en tel my oor na my bed toe.  Die narkotiseerder het bevestig dat my bene kan tot 12 ure vat voor dit weer lewe begin kry.  Ek het nie daaroor bekommer nie want al waaraan ek kon dink was Nanindi en kon nie wag om haar weer te sien nie. Hulle het my na die wagkamer toe gestoot en ek het gewag dat hulle my kamer toe vat…



Ons wag om teater toe te gaan

Nanindi 'n paar minute oud

Nanindi nog bietjie hartseer

Jeff kry 'n kans om vir Nanindi vas te hou

Kry 'n kans om weer vir Nanindi vas te hou
 
Nanindi kry haar eerste bad

Lekker warm aangetrek na haar bad


Proud daddy

Eerste borsvoed probeer slag

Lekker warm in mamma se arms

Proud Mamma